Die tweede helfte van die jaar het onlangs begin en almal gaan nou begin voorberei vir Kersfees, maar nou loop gerugte dat diè se dae ook getel is. Dit is egter nie die eerste keer dat daar gerugte is van pogings om Kersfees en Paasfees te skrap nie. Hierdie is al sedert die vroeë 2000’s ’n besprekingspunt en die onlangse blik wurms is oopgemaak sonder die nodige navorsing – en indien dit wel gedoen is, is dit nie gedeel nie.
Die belangrikste om te weet is dat daar tans geen poging deur die regering is om Christelike vakansiedae of van dit te skrap nie.
Die gerugte kom na aanleiding van ’n besprekingsdokument deur die Suid-Afrikaanse regshervormingskommissie aan die departement van binnelandse sake. Dit is egter belangrik om eers te verstaan dat die kommissie se taak is om die Suid-Afrikaanse grondwet te hersien deur wetgewing of dele van wetgewing te identifiseer en aan te beveel wat geskrap of gewysig moet word, wat strydig is met die gelykheidsbepaling in die Grondwet, wat verouderd of oortollig is.
Dis belangrik om te weet dat die kommissie geen magte het om wetgewing te verander nie, daarvoor het ons die wetgewers met hul eie prosesse.
Die wet op openbare vakansiedae word op bladsy 56 van die besprekingsdokument vir algemene inligting en insette bespreek en die kommissie beveel aan “dat aangesien daar ’n element van ongelyke behandeling is, moet die afdeling hersien word. Daar word ook voorgestel dat òf hierdie dae word hersien, òf gelyke gewig word gegee aan geestelike vakansies van ander gelowe.”
Iets wat ons dalk gou vergeet is dat die Christelike geloof in die twaalf bestaande openbare vakansiedae ingesluit is en sluit nie geestelike dae van onder andere die Moslem, Joodse, Bahá’í en ander gelowe van mede Suid-Afrikaners in nie.
Na my beskeie mening is ons openbare vakansiedae vir ’n demokrasie dus baie ongelyk en diskrimineer ons indirek teenoor ons bure, vriende en familie wat ’n ander geloof as ek dien.
Ek is ’n Christen, wat volgens streng konserwatiewe geestelike waardes groot gemaak is, tog as Christen, wat die woord van liefde versprei en glo in gelykheid, ondersteun ek die hersiening ten volle.
Dit was nie nodig om te gaan sit en dink wat as die Christelike vakansiedae tans op die kalender ’n ander geloof was, hoe sou ek as Christen voel en sou ek dit wou verander?
Ek wonder wel hoeveel van diegene wat ontsteld is, die afgelope ses maande elke week in ’n kerk was of hoeveel is net in ’n kerkdiens op Goeie Vrydag en Kersfees?
So, skrap ons Kersfees en Paasfees, of voeg ons Eid Al-Fitr, Eid Al-Adha, Yom Kippur, Makar Sankranti en ’n paar ander by die twaalf dae wat ons het?
Ek sal ten gunste stem van ’n vakansiedag vir Rastafariërs, Jode, Muslim en talle ander gelowe, maar wanneer ons besluit oor die vakansiedae is dit belangrik om onsself te herinner hoe meer vakansiedae, hoe minder produksiedae om by te dra tot die ekonomie van die land – wat kan en gaan lei tot erger nagevolge. Moet ekonomiese groei nie liefs ons doel wees, om ons land te verbeter, geleenthede te skep vir ons nageslag, pleks van meer vakansiedae te maak?
Hetsy Paasfees, Kersfees, Eid Al-Fitr, Yom Kippur of enige ander geestelike dag nou in die Wet op Openbare Vakansiedae verskyn al dan nie, beteken ook tog nie jy het nie die reg om dit te vier nie.
Om te preek vind tog sekerlik nie net tussen die vier mure van ’n gebou op ’n Sondag, Goeie Vrydag en Kersfees plaas nie, maar elke dag en nie net in woord nie, maar ook in daad?
Die wat ernstig is oor geloof sal getrou wees aan hul waardes en dit saam met hul geloof uitleef – ongeag ’n openbare vakansiedag.
En ja, 79% van Suid-Afrikaners is Christene, maar om die dag as openbare vakansiedag of nie te hê, maak jou nie minder of meer van ’n Christen nie.
- Oorspronklike het in Paarl Post van Donderdag 30 Julie 2015 verskyn as 'n Dag maak jou nie 'n Christen nie.