Tuesday, 23 September 2014

Braaivleis, pap, wors is deel van Suid-Afrikaanse kultuur



Wat is meer eg Suid-Afrikaans as boerewors, biltong en braaivleis?
Geen ander plek op aarde kan die erfenis van dié lekkernye naboots nie.
Hoe kan ’n mens Erfenisdag sonder ’n vleisie op die kole vier? Braai is dan een van ons land se ryk kulturele tradisies.

In 2005 het Erfenisdag ook Nasionale Braaidag geword. Dié geleentheid is deur die Mzansi-braai-instituut geïnisieer en word sedert 2008 onder die vaandel van Braai4Heritage, ’n nie-winsgewende inisiatief, gedryf. Die doel van die inisiatief is om Suid-Afrikaners te verenig en aan te moedig om deel te neem in ’n prettige en tasbare aktiwiteit.


Mnr. Jan Scannell, hoof van die Braai4Heritage-inisiatief, sê die dryfveer agter Nasionale Braaidag is Suid-Afrikaners se liefde vir vuurmaak,die samesyn rondom die vuur en om kos voor te berei.

“Dit is die een ding wat alle Suid-Afrikaners in gemeen het. Dit is ’n tradisionele plek van bymekaar koms in Afrika.”
Die dag is belangrik, net soos die Wêreldbeker-sokkertoernooi en Wêreldbeker-rugbytoernooi, want dit bring mense saam, sê dr. Ivan Meyer, voormalige Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake. 

“Dit is ook belangrik om nie ons erfenis te vergeet terwyl jy ’n tjop of stukkie hoender braai nie. Daar is ook baie ander erfenis-aktiwiteite waaraan mense kan deelneem.”
Scannell sê braai is die een ding waarvoor almal lief is en wat selfs die grense van taal, kultuur, geografie, geloof en sport oorsteek.

Nasionale Braaidag word op Erfenisdag gevier, maar hoekom nie op Menseregtedag, Vryheidsdag of selfs Versoeningsdag nie?
Meyer meen daar kan op elk van dié dae gebraai word, juis omdat dit een van die aktiwiteite is waar almal bymekaarkom.
“Mense praat met mekaar en is gesellig. Dit bied die geleentheid om oor die geskiedenis te gesels en na die toekoms uit te sien.”
Scannell verduidelik braai is ’n erfenis, terwyl dae soos Menseregte- en Vryheidsdag te veel politieke bagasie dra. Versoeningsdag is weer te na aan Kersfees en al die fokus sal daarop val, verduidelik hy, en voeg by September is aan die begin van lente, ’n gepaste tyd om Suid-Afrika met ’n braai te vier ná die winter.
“Braai skep nie net geselligheid nie,maar skep ook ’n platform waar mense hul diep persoonlike waardes en tradisies openbaar,” sê Meyer.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Erfenisraad het in 2008 hul ondersteuning gegee aan dié inisiatief. 
’n Jaar later het die inisiatief ’n amptelike liedjie, “Our Heritage”, bekendgestel. Hierdie liedjie word deur die Soweto-gospelkoor, Hip Hop Pantsula, JR en Die Heuwels Fantasties gesing.
“Die dag skep ’n positiewe gees, wat aansteeklik is. Niemand is vir niemand kwaad nie,” sê Meyer.

Daar is groot ondersteuning vir Nasionale Braaidag en duisende Suid-Afrikaners neem deel daaraan, noem Scannell, oor Jan Publiek se ondersteuning van die dag.
“Ander lande het jare reeds sulke nasionale feesdae soos Ierland se St. Patrick-dag en Amerika se Dankseggingsdag. Nou het Suid-Afrika ook sy eie: Braaidag.”
Meyer sê Suid-Afrikaners sal egter enige dag gebruik om te braai.
“As die Springbokke wen, dan is daar ’n lus vir braai en jy sien dit om elke hoek en draai,” sê Meyer.
Omdat hy van Vredenburg aan die Weskus is, verkies hy om vis te braai, sê Meyer oor sy braai vernuf.
“Ek hou van boerewors, omdat dit eg Suid-Afrikaans is. Dit is wat ek Saterdag sal braai,” sê Scannell oor sygunsteling-braairesep.

Scannell voel Nasionale Braaidag bereik sy doel, maar sal nog baie groei.Meyer stemsaamen sê braai het in Suid-Afrika reeds kultuurstatus bereik.

“Nasionale Braaidag groei soos ’n veldbrand. Suid-Afrikaners moet net versigtig wees en nie veldbrande op dié dag veroorsaak nie,” sê Scannell.

Oorspronklike artikel het in Die Burger verskyn op Donderdag 22 September 2011

No comments:

Post a Comment