Thursday, 5 February 2015

Belê in leerders lank voor matriek


Daar was trane van blydskap en hartseer toe die nuwe jaar begin met die aankondiging van die matriekuitslae. Die departement van basiese onderwys het ’n slaagsyfer van 75,8% aangekondig, wat laer is as die klas van 2013.
In werklikheid is die matriekuitslae maar eintlik ’n hartseer verhaal en wonder ’n mens of daar lig aan die einde van die tonnel is?

Die basiese onderwysdepartement is nie verkeerd as hulle die slaagsyfer aan ons gee nie, maar dit is die slaagsyfer van die aantal kandidate wat die nasionale senior sertifikaateksamen geskryf het.
Terwyl ons kan bly wees vir die meer as 75%, moet ons egter vra hoeveel het in 2003 hul skoolloopbaan begin, maar oor die twaalf jaar uitgeval en nie die nasionale senior sertifikaateksamen geskryf nie?

Syfers van die departement van basiese onderwys dui daarop dat 1 252 071 leerders die skoolstelsel in 2003 in graad 1 begin het (hulle sou die klas van 2014 word).
Uit hierdie groep, het 688 660 leerders dit gemaak tot die matriekeksamen.
Dit beteken slegs sowat 55% van die 2003 graad 1-leerders kom deur ’n twaalf jaar skoolloopbaan, terwyl 563 411 leerders êrens langs die pad uitgeval het.

As jy die 2014-syfers vergelyk met dié van 2013, sal jy oplet dat die aantal kandidate wat die 2013 nasionale senior sertifikaateksamen geskryf het, altesaam 623 897 was, terwyl 1 286 591 leerders graad 1 in 2002 betree het. Daar het dus 662 695 langs die pad uitgeval
Sou jy die aantal leerders vat wat in 2003 hul skoolloopbaan begin het en dit vergelyk met die aantal wat in 2014 geslaag het, is die werklike slaagsyfer sowat 41,7%, wat ook beteken slegs sowat ±12% het toegang tot nagraadse studies verwerf.

Die getal leerders wat ons nie in berekening neem nie, en êrens in die 12 jaar uitgeval het, sien ons of moet ons hulle nie sien as diegene wat dit nie gemaak het nie?
Die realiteit is dat dié wat in die 12 jaar uitgeval het ook landsburgers is wat nou ook deel van óf die arbeidsmark óf die werkloosheidsyfer is, nes die kandidate wat nie gaan studeer nie.

Ek wil my verstout en self afvra, diskrimineer ons tog nie maar teen hulle wat om een of ander rede uitgeval het nie?
Die ander saak is, as jy uit die bus geval het en jy besluit later om jou matriek te voltooi by ’n kollege, gaan jy tel onder die matrieks met wie jy aanvanklik sou skryf of tel jy onder die jaar wat jy matriek voltooi het en word die aantal kandidate wat matriek by tersiêre instellings voltooi, by die aanvanklike matriekslaagsyfer bygevoeg of bly dit maar ’n persentasie wat in die lug hang?
Indien ons daardie persentasie wat by kolleges hul matriek voltooi by die jaar moet voeg, lyk die slaagsyfer dan beter of slegter vir ons land?

Het dit nie dalk tyd geword dat ons ’n ekstra kolom of twee byvoeg wanneer die matriekuitslae aangekondig word nie, of sal ons die aantal leerders wat die skoolstelsel saam met die matrieks ingekom het maar in die 12 jaar uitgeval het, net bytel en die regte persentasie gee?

Ek het ook opgemerk verskeie sake-ondernemings was goedhartig met die skenk van tegnologiese toestelle, soos tablette, aan die topleerders. Dit is goed, maar moet ons nie besighede kry om te belê in ons skole vóór die leerders in matriek is nie om dus só ons slaagsyfer bietjie hoër te maak? As ons onder begin, kan ons bo die vrugte pluk. Voordat enigeen gaan sit vir die matriekeksamen, moet jy eers 11 ander grade voltooi.

As opvoeding vir ons as land so belangrik is, soos ons onsself oortuig, sal ons nie net elke jaar fokus op ’n matriekslaagsyfer nie, of kandidate wat net slaag nie. Ons sal ook na ons ander grade moet begin kyk. Die matriekeksamen begin immers nie in graad 12 nie.
  • Oorspronklike opinie het in Paarl Post rubriek van Donderdag 5 Februarie 2015 verskyn

No comments:

Post a Comment