Binnekort
vier ons Vryheidsdag, een van die sleutelgebeure vir ons demokrasie, toe
Suid-Afrikaners – ongeag ras – hul kruisie vir ’n demokrasie kon trek in 1994.
Onlangse
gesprekke, debatte en opinies oor ras dwing my egter om 21 jaar in ons
demokrasie te sê, klassifiseer my asseblief as Suid-Afrikaner.
Sowat ’n jaar
gelede het ek via Twitter ’n munisipaliteit gekontak oor ’n diensleweringskwessie. Die
verantwoordelike departementshoof het binne sekondes reageer en kort daarna die
premier van die Wes-Kaap. Ek is met ’n antwoord op my navraag voorsien en om
verskoning gevra vir die ongerief.
Op my dankie reageer iemand: “Earl is wit omdat sy probleem opgelos word. Swart inwoners
word uit hul huise gesit en wittes onmiddellik gehelp.”
Hierop moes ek vra: hoekom is my ras belangrik? Ek is ’n Suid-Afrikaner en ras moet nie ’n saak
wees nie.
’n Vriend van
my vertel onlangs hoe hy geoordeel word en die lelike kommentaar wat gemaak
word omdat hy en sy meisie nie dieselfde ras is nie. My woorde aan hom was,
liefde ken alles en verdra alles. Ongelukkig is hy nie die eerste en enigste
van my vriende wat met iemand van ’n ander ras uitgaan en daaroor geoordeel word
nie.
Ek verstaan
en respekteer ons land se geskiedkundige agtergrond, maar voel ten spite hiervan
en ons jong demokrasie, moet ras nie die eerste ding wees wat in ons kop opkom
nie. Ek twyfel of in enige ander land jy gevra gaan word wat jou ras is, jy sal
liefs jou nasionaliteit gevra word.
Tog is dit
bietjie selfsugtig om te argumenteer dat ras nie saak maak en nie belangrik is
nie. Ek het al menigmaal gehoor hoe mense sê ek was eers te swart en nou is ek
te wit, sommige noem my hotnot en andere ’n confused ras. Ek is
bruin en trots daarop.
Het jy al
ooit daaroor gewonder, as jy nie jy was nie, wie sou jy wees?
Groot word
was dalk nie maklik nie, maar die realiteit is dat die lewe nie maklik is nie.
Dood,
ongelukke, uitdagings, siekte, geloof, seksuele oriëntasie en liefde is maar ’n
paar dinge wat nie vir ras vra nie, maar gebeur.
So mense kan
my boesman en hotnot noem, dit is
deel van my erfenis. As dit nie deel van my Skepper se plan was nie, sou hy my
sekerlik nie so geskape het nie.
Soms gaan ons
deur die lewe soos om deur ’n donkerkamer met onsekerheid te loop, maar sodra die
lig aangaan, voel ons selfversekerd.
Alles in die
wêreld het ’n label, moet ek ook een hê?
Nes dood en
liefde, sal die rassekaart maar gedurig voorkom, om dit te oorbrug moet ons
erken en trots wees op wie ons is – insluitende ons erfenis. Ons moet verby ons
verskille kyk en strewe na eenheid deur ons diversiteit.
Ja, ek is ’n
bruin en trots daarop, maar klassifiseer my as ’n Suid-Afrikaner, want ek
is deel van die One Tribe waarvan Vicky Sampson sing as sy sê “we were meant to be as
one, one heart, one soul, one tribe under heaven, we are one
- Hierdie rubriek het oorspronklik op Donderdag 23 April 2015 in Paarl Post op bl.6 verskyn
No comments:
Post a Comment