Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) ontmoet hierdie week in Benoni, vir haar Sinodesitting. Op die tafel is die verslag oor homoseksualiteit.
As lidmate van die VGKSA, is ons bekommerd oor die kerk se profetiese stem aan Lesbiese, Gay, Biseksuele en Trans-gender (LGBT) gemeentelede en gemeenskap. Die afgelope elf-jaar het die kerk drie Algemene Sinodesittings gehad waartydens dié kwessie bespreek was. Die besluit van 2005 oor homoseksualiteit, was hoofsaaklik aangebring deur Abe Pieterse wie deur die kerk legitimasie geweier is, omdat hy eerlik was oor sy seksuele oriëntasie.
Die besluite van 2005 het gevra na ‘n teologiese studie oor homoseksualiteit. By die Sinode van 2008 was die verslag terug verwys na gemeentes. Vier jaar later, was daar geen vordering nie, maar was op ‘n tweede studie besluit. Dit wys daarop, dat daar groot ongelukkigheid is oor die teologiese studie van 2008, wat deur prominente VGKSA teoloë saamgestel was. Die uitgangspunt van hierdie verslag is dat die seksualiteit van gay persone aanvaar moet word.
As lidmate van die VGKSA vra ons die kerk in liefde om in die gees van die Belydenis van Belhar LGBT lidmate nie verder te laat ly nie. Ons pleit vir eenheid! Herhaaldelik in debatte van homoseksualiteit word Bybelverse voorgehou om te diskrimineer. Die 2005 besluit, dat gelowiges hieroor in liefde moet praat en verdraagsaamheid aan LGBT moet bewys, is ‘n verfynde institusionele vorm van diskriminasie. Die kerk se onwilligheid om die saak te bespreek op alle vlakke is gedompel in heteroseksisme gevoed deur homofobie, kultuur en die mite dat homoseksualiteit ‘n Westerse probleem is wat in Afrika posgevat het.
Die Bybel is teen promiskuïteit en nie teen selfdegeslag-verhoudings nie. Sodom was verwoes, deur seksuele die stadsmanne se misdryf. Gasvryheid as goddelike en antieke deug was nie aan die gaste bewys nie. Die Israeliete van ouds het hulself nie as heteroseksueel beskou nie. Die Levitiese wette was ingestel om kultiese reinheid te handhaaf. Penetrasie deur ‘n man in ‘n ander man was gesien as vermenging van geslagsrolle, omdat binne die raamwerk van voortplanting en Adam as hoof van Eva, die mag van die man tot verval sal kom. In die Nuwe Testament is prostitusie en pedofilie onaanvaarbaar netsoos vandag. Ons lidmate van die VGKSA is daarvan oortuig dat die verstaan van die Drie-eenheid die voorbeeld is vir menslike verhoudinge en nie noodwendig die verhoudings van mag en manlikheid soos deur die antieke kulturele waardes vasgevang is in die Bybel nie. Seksualiteit vir ons ‘n gawe van God vir elke mens wie Hy kunstig geskep het.
As lidmate van die VGKSA vra ons die kerk in liefde om in die gees van die Belydenis van Belhar LGBT lidmate nie verder te laat ly nie. Ons pleit vir versoening! Talle lidmate (en selfs predikante) lewe in vrees omdat die kerk geen duidelikheid het rondom menslike seksualiteit nie. Diegene wie hulself onderdruk, lewe nie net in vrees nie, maar het ‘n verwronge selfbeeld, menswaardigheid van broosheid en ‘n verwarde spiritualiteit wat nie binne die gemeente kan uitgeleef word nie. Die opgestane Here het versoening vir alle mense gebring, insluitend LGBT persone met hul seksualiteit. Om versoen te wees met jou seksualiteit maak ook versoening met alle ander persone moontlik. Die Franse Filosoof Paul Ricouer in sy boek The Course of Recognition (2005), praat van wedersydse erkenning as geskenk en dankbaarheid. LGBT persone se seksualiteit wat as studie stuk en sonde beskou word kan alleenlik verstaan word as dit erken word en beskou word as gawe.
Die doop en Nagmaal praktyke is volle bewys van inklusiewe mag van God. Die VGKSA handhaaf ‘n proses van onderskeiding om by studie wat vir teologiese studies aanmeld te hoor of hulle geroep is. Studente word gelegitimeer en ordineer omdat hulle die Kuratorium (kommissie van teologiese opvoeding) oortuig van hul geroepenheid. Dit druis teen die wil van God om nie LGBT persone toegang tot die bediening te gee. Ons glo, dat VGKSA die LGBT persone se verbintenisse as huwelik moet in seën. Die Belydenis van Belhar leer ons “dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie byvoorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.”
As lidmate van die VGKSA vra ons die kerk in liefde om in die gees van die Belydenis van Belhar LGBT lidmate nie verder te laat ly nie. Ons pleit vir geregtigheid! Die wêreld, kontinent en ons land dink telkens na oor menslike seksualiteit. Ons is die Here dankbaar, vir ons konstitusionele demokrasie en grondwet wat LGBT regte beskerm. Die kontinent van Afrika waar so baie LGBT persone vermoor, verkrag en vermink word daagliks het weereens die profetiese stem van die Kerk van die Here Jesus Christus nodig. Presies dertig jaar gelede, was die Belydenis van Belhar aanvaar op die Sinode van destydse Sendingkerk. Gelowiges het opgestaan teen alle vorme van onreg, omdat hulle die mooiheid van geregtigheid in hulle oë van geloof gesien het naamlik “dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom;”
Ons bid saam die gebed van dominee Jan Metler, wat hy voor die aanvaarding van Belydenis van Belhar in 1986 gebid het:
“Ons voel soos Daniël in die leeukuil, want eensklaps het die uur vir ons aangebreek. Vir hierdie geloofsdaad van die sendingkerk sal ons volle verantwoordelikheid moet aanvaar. Ons staan hier weerloos en breekbaar omdat ons besef dat ons so maklik in die navolging van die man van Nasaret kan seerkry. Ons wil met ons klein geloof op U wag om ons die pad te wys, wat ons moet gaan.” (Uit die Burger: 27 September 1986).
Onderteken deur:
Abe Pieterse
Hanzline R. Davids
Earl September
Veonna Goliath
No comments:
Post a Comment