Vir sommige
is dit nogal iets om te sien wie by die kerk inkom, maar toe maak Somizi die
ander dag ’n grand exit
uit die kerk. Sy uitstappery is toe boonop oor
homofobiese aanmerkings wat ’n gasprediker by ’n diens in Soweto gemaak het.
Intussen is ’n groep kerkleiers ongelukkig oor die nuwe voorgestelde #haatspraakwet. Die godsdiensleiers reken hulle sal nie die boodskap wat God hulle gegee het kan uitdra nie en in besonder, dat om gay te wees verkeerd en sonde is.
Die NGK
sê op sy beurt: “Sou die wet toegepas word, kan dit selfs vryheid van spraak en
vryheid van godsdiens in gedrang bring”.
In November het prof. Wannie Carstens bande met die kerk gebreek oor die kerk se besluit oor gaylidmate. Hy sê die kerk het hom gedrop. “Wat het geword van die liefdesgebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. En ons mag nie voorskryf wie hierdie ‘naaste’ moet wees nie.”
In Brakpan, van alle plekke, weer is daar ’n eetplek wat ’n gaypaartjie verbied het om deel te wees van hul Date Night. Die eienaar sê die rede vir geen gaypaartjies is nie om teen enige persoon te diskrimineer nie, maar om ‘n paartjiesaand te beheer.
Einde verlede jaar het SuidAfrika vir die Amerikaanse pastoor, Steven Anderson, nee gesê om na ons land te kom om gayhaat te preek. Die pastoor het gesê 49 mense wat in ’n gayklub vermoor is, is goeie nuus omdat “die klomp perverts en pedofiele is”.
Daar is
egter talle ander godsmanneen vroue hier in die land wat soortgelyke uitlatings
maak en die preekstoel misbruik om hul menings as Godswoord te deel.
Onlangs het ek in drie afsonderlike voorvalle gesels met individue wat depressief, ontsteld en hartseer is oor hoe kerkleiers hul posisie misbruik.
Pleks
van liefde te preek, word uitlatings gemaak wat die waardigheid van individue
aantas.
Ek het op Facebook gevent “geestelike leiers sal nooit die pyn begryp wat hul veroorsaak met die woorde in hul preke nie”.
Ek het op Facebook gevent “geestelike leiers sal nooit die pyn begryp wat hul veroorsaak met die woorde in hul preke nie”.
’n
Dominee stuur toe aan my die volgende boodskap: “Ons spreek net wat God op ons
hart plaas”. Ek kon nie help om te reageer met: “ek hoop dit is God en nie
Lucifer se stem nie”.
In 2016 het ons begin met rassistiese aanmerkings en ons is skaars deur die eerste maand van 2017 en ek wonder of dit die jaar van homofobiese haat gaan wees? Net einde November was dit 10 jaar sedert SuidAfrika die vyfde land in die wêreld en eerste op die vasteland geword het wat selfdegeslaghuwelike gewettig het.
SuidAfrika se Grondwet is duidelik ons almal “het waardigheid en die reg dat dit gerespekteer word”.
Artikel
9 (3) en (4) noem dat niemand direk of indirek onregverdig teenoor enige
persoon mag diskrimineer nie.
Die afgelope week was die spertyd vir belangstellendes om insette en kommentaar te lewer op die haatspraakwet. Met dié wet wil die regering sy plig nakom, om gelyke regte te reguleer en diskriminasie te verbied.
Haatspraak word gesien as enige vorm van kommunikasie waar ’n persoon ’n ander persoon of groep dreig, beledig, bespot of skeltaal gebruik.
Laat ons
nie doekies omdraai nie, daar is kerkleiers wat preke gebruik om sekere mense
te na te kom – of soos ons in die kerkbanke sal sê, pastoor het vandag weer
lekker “skim gegooi”.
Uitlatings oor ras, geslag, kultuur of seksuele oriëntasie tas die waardigheid van daardie persoon aan, iets wat veronderstel is om gerespekteer te word. Die einste plek wat ’n veilige hawe moet wees, blyk al hoe meer die plek van oordeel te word.
Ek is een van daardie mense wat in die kerkbanke grootgeword het. Daar het ek geleer dat God is liefde, ons is almal sy kinders en die liefde van Jesus is wonderbaar.
Ek sukkel
egter om nou te verstaan waarom ons so selektief is met ons Bybel en sekere
verse aanhaal wanneer dit ons pas. Tog vergeet ons van al die ander verse. En
dan praat ek nie eens van diegene wat nie eens al 66 Bybelboeke ken nie.
Het God tog nie maar geweet ons sal ook hierdie kruis moet dra, die dat hy sê “roep my aan in die dag van benoudheid”? Steeds kan ek nie help as om te vra “waar sal my hulp vandaan kom?”.
Troos lê daarin dat kerkleiers ook maar mense is, nes ek en jy, gebore in sonde. En ons almal sal eendag alleen voor die Grootman moet gaan rekenskap gee.
My
antwoorde vind ek in my wyle ouma se gunstelinggesang:
“My
enigste troos in lewe en dood
is dat
ek aan Jesus Christus behoort.
Niks sal my ooit van Hom kan skei
– dis my anker, my vaste hoop.”
- Oorspronklike het as Post Scriptum in Paarl Post van Donderdag 2 Februarie 2017 verskyn.
No comments:
Post a Comment