Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Monday 10 February 2014

Politici raak romanties agter die politieke skerms


Hierdie is ’n verkiesingsjaar, wat beteken dat al wat politikus is, tot en met die groot dag op 7 Mei na jou stem gaan vry. Maar hoe romanties is ons land se leiers as hul saans hul ampsbaadjies ophang?
Valentynsdag word aanstaande Vrydag – ’n dag ná die lewering van die staatsrede – gevier, en heelparty politici sal seker nog herstel ná die bekendmaking van die president se planne vir die jaar. Desondanks beplan ’n paar van hulle iets spesiaals vir hul geliefdes. 
Ons het by van hulle gaan uitvis of hulle ook die dag van liefde vier en of hulle hul heel eerste Valentynsgeskenk kan onthou:


Helen Zille, Wes-Kaapse premier 
Die premier voel Valentynsdag is net nóg iets waaroor jy jou moet bekommer. “Hoewel dit hope pret kan wees, het dit in ’n reklame-foefie ontaard wat ons almal uitgebuit laat voel,” reken sy.
“As ek aan die dag dink, onthou ek die kinders in my laerskoolklas wat bekommerd was of hulle ’n Valentynskaartjie gaan kry. Baie het uit en ongewaardeer gevoel as hulle niks kry nie.”
Kon sy die dag saam met enigeen deurbring, verkies sy dié mense vir wie sy die liefste is, haar gesin.
“Ek het vanjaar ’n groot funksie met die konsulêre korps, so ek sal dalk nie eens Valentynsdag onthou nie. Vir nou is ek wel verlig die gehuigel met die Mamphela-soen is agter die rug.”

Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die Vryheidsfront Plus 
“Valentynsdag is die viering van die sterkste en mooiste emosie wat bestaan. Daar is niks sterker en mooier as liefde nie.”
Sy eerste Valentynsgeskenk onthou hy nog baie goed. Hy was in standerd 7, oftewel graad 9, in die Afrikaans Hoër Seunskool en sy in die Afrikaans Hoër Meisieskool. Die geskenk was ’n mooi hangertjie.
“Ek wil nie die dag met ’n bekende persoon deurbring nie, maar met die persoon vir wie ek lief is. Sy weet wie sy is.”
Sy planne vir die dag is om die liefde te vier, “want met baie meer liefde sal die wêreld ’n baie beter plek wees”.

Cheryllyn Dudley, ACDP-hoofsweep in die Nasionale Vergadering 
Valentynsdag beteken vir haar herinneringe aan kaartjies met teddiebere, blomme en hartjies, om verlief te wees op die idee van verlief wees en uiteindelik verlief te raak op die ongelooflikste persoon.
“Ek onthou nie regtig my eerste Valentynsgeskenk nie, maar wel verlede jaar, seker omdat dit die opening van die parlement was. Ek het beplan om ’n oulike, gemaklike swart rok aan te trek, maar in die bloedige hitte van Februarie het ek besluit op ’n helder oranjerooi somerrok – en dít met karakterlose skoene wat nie eens by die rok gepas het nie!”
Sy sal die dag vanjaar wil deurbring met dieselfde seun wat sy 36 jaar gelede ontmoet het. “Ek verkies net die volwasse weergawe van hom,” bieg sy.
Daar is nog geen planne vir die dag nie, hoewel hulle gewoonlik probeer om mekaar spesiaal te laat voel en oorvol eetplekke vermy. “My dogter het dalk planne en dít beteken dat ek en my Valentyn ons twee kleinseuns sal kan oppas.”

Donald Grant, Wes-Kaapse minister van onderwys 
“14 Februarie was nog altyd ’n spesiale dag, want dit is my ma se verjaardag. Daar was maar altyd blomme en ’n partytjie om dié dag te vier.”
Hy het sy eerste Valentynsgeskenk op 14 ontvang. “Ek het aan drie meisies in twee verskillende skole ’n Valentynskaartjie gestuur. Ek het net twee ontvang en weet tot vandag toe nie wie die een was wat nie een teruggestuur het nie!”
Die dag lê vir hom nog baie ver en sy skedule is onderhewig aan veranderinge, maar hy sal graag die dag met sy “bokkie”, Cheryl, wil deurbring. “Al is dit dan ook net ’n braai by die huis, met ’n bottel goeie wyn.”

Magdalene Moonsamy, hoof van internasionale betrekkinge van die Ekonomiese Vryheidsvegters 
Valentynsdag is ’n dag om die liefde te vier. “Liefde is die kern van respek en waardering van ’n maat, ouer, bloedverwant, gemeenskap en samelewing. Dit is ’n dag om te herbevestig wat ons na liefde dryf en hoe om dit te handhaaf.”
Haar eerste Valentynsafspraak was met ’n vriend wat alles moontlik probeer het om die vriendskap in iets meer te ontwikkel. “Dit was ’n date vol pret by ’n speletjiesarkade.”
Sy sal beslis die dag met haar verloofde wil deurbring, en al kan hulle nie op die 14de saam wees nie, sal hulle om die datum werk. 
“Op Valentynsdag moet ’n dame bederf en bewonder word. Dit is die man se taak om alles te beplan – ek wil hom nie van daardie pret ontneem nie.”