Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Wednesday 27 July 2016

Jou kruisie is belangrik

Op 3 Augustus sal meer as 26 miljoen van my medelandsburgers die geleentheid kry om hul kruisie te maak. 
Ons sal die geleentheid kry om ’n politieke party en wykskandidaat te kies om ons te verteenwoordig en hul beloftes na te kom.
Wanneer my keuse gemaak is, sal ek met die kollektiewe besluit – wie my wyk en munisipale gebied gaan regeer – moet aanvaar.

Dit is daarom belangrik dat wanneer ek my kruisie maak, ek dit met trots doen en my stem slim gebruik.
Net minder as 50 000 van die meer as 3 miljoen kiesers in die Wes-Kaap is tussen 18 en 19 en sal vir die eerste keer hul kruisie maak. Hulle sal kan kies uit ’n rekord 200 politieke partye en 61 014 kandidate wat in die munisipale verkiesing meeding. Dit is sowat 65% meer politieke partye en 12% meer kandidate as vyf jaar gelede in 2011.
Talle kenners noem dit die belangrikste verkiesing sedert daai allerbelangrike 1994 een. Tog is alle verkiesings belangrik en wat vanjaar se plaaslike verkiesing interessant maak is om te sien of kiesers volgens hul behoeftes of volgens lojaliteit sal stem. Dit natuurlik as jy dink aan wat die afgelope twee tot vyf jaar gebeur het.


Ons stem is egter meer as ’n geleentheid, dit is ’n verantwoordelikheid wat ons toegang gee tot die reg om ons openbare verteenwoordigers verantwoordbaar te hou. Ons stem is nie net vyf minute werd nie, maar inderdaad vyf jaar. Vyf jaar om diegene vir wie ons kies verantwoordelik te hou om in die gemeenskap se basiese behoeftes te voorsien.
Die afgelope paar maande moes ons talle diensleweringbetogings in die land aanskou. Nes geen mens perfek is nie, is ook geen party perfek nie en bevat elkeen sy eie struikelblokke.
Rassisme, kwotas in sport, korrupsie, private stralers, spy tapes en talle ander sake is belangrik.
Maar wat ons baie keer vergeet is om realistiese oplossings op die agenda te plaas wat die daaglikse bestaan van veral die armes raak.
Terwyl ons worry oor ’n nuwe jet vir die president of ’n rassistiese post op sosiale media, is daar ’n ouma wat omsien na haar vyf kleinkinders en wonder waar gaan sy môreaand se ete kry. Terwyl ons kwotas in sport bespreek, het die ouers van ’n talentvolle jong sportspeler nie die geld om eens oefenklere vir daardie speler te koop nie.
Ja, hierdie verkiesing is nes die vorige en dié wat sal kom, belangrik.

Hierdie munisipale verkiesing is ’n geleentheid vir die kieser om vir hul behoeftes te stem, om te stem vir wie ’n regte verandering in hul lewe sal maak en nie net een op papier of ’n poster nie.
Wanneer ek in die stemlokaal gaan en my stembriewe vashou – staan ek alleen. Ek sal my asem ophou en dink aan ongeag hoe onvolmaak ons demokratiese proses mag wees of nie, dit bly ’n voorreg vir my om my kruisie te maak. ’n Voorreg wat my grootouers nooit gehad en kon geniet het nie.
Ja, ek sal dink aan wat Zuma, Maimane, Malema, Lekota, Buthulezi, Zanele, Godi en die Mulders gesê het, asook beloftes van plaaslike leiers. Maar ek sal ook dink aan Madiba, Oliver, Walter, Albertina, Helen, Dullah, Kader, Ashley en die talle ander wat ’n duur prys betaal het vir my om hierdie verantwoordelikheid te geniet.
Ek sal ’n oomblik neem en dink aan die talle uitdagings in my gemeenskap en wie in my mening die beste dit kan aanspreek.
Ek sal dink aan menseregte, vryheid van spraak, die media, vryheid om aan ’n organisasie van my keuse te behoort. Ek sal ook dink aan die regte van minderheidsgroepe, diversiteit en ’n droom van samehorigheid.
Ek sal met die stembriewe in my hand ook dink aan armoede, maatskaplike uitdagings soos dwelmmisbruik, tienerswangerskap, MIV, werkloosheid, bendegeweld en die stigma teen my LGBTI (gay) vriende.
Ek sal dink aan vrede en hoop dat jy ook jou stem wys sal gebruik.
Geniet die verantwoordelikheid om te stem. Stem met trots en loop by die stembus weg met die wete dat jy die regte ding gedoen het.

Dit gaan oor jou kruisie!
  • Oorspronklike rubriek het in Paarl Post van Donderdag 28 Julie 2016 verskyn.