Jippie, dit is Jeugmaand! Maar het ons regtig iets om te vier?
Daar word gesê een uit vier jongmense is werkloos. Ons land se werkloosheidsyfer
vir die eerste kwartaal van 2016 was 26,7% waarvan ’n groot deel – meer as 50%
– jeugdiges is.
Ons is op die vooraand van Jeugdagvieringe waar ons onthou hoe honderde
jongmense in 1976 opgestaan het vir dít wat hulle geglo het is reg en
regverdig.
Ek kan nie help om myself af te vra nie – het hulle toe nie maar net die battle gewen nie, terwyl die oorlog voortduur?
Bendegeweld beheer ons gemeenskappe en vir so baie het dit al ’n comfort zone geword. As jy nie ’n kind voor 21 het nie,
is jy nie cool nie, of die nuwe sêding is “jou kind gaan jou ouma noem”. Voorts word
dwelms ook geëet soos ek lekkers kou.
Maar alles is nie verlore nie. Verlede jaar het ons die jaar van studente
gesien, van
#RhodesMustFall tot #FeesMust-Fall. Jongmense het, soos 40 jaar
gelede, opgestaan en sterk gestaan, van kampusse tot op die stoep van die
parlement.
Hulle het die sekretaris-generaal van die ANC gedwing om op die teer saam
met hulle voor Luthuli-huis te sit en Tata Madiba moes toekyk hoe duisende op die
grasperk buite die Uniegebou byeenkom en aandring dat aan hul eise voldoen
word.
Hier staan ons nou weer voor Jeugdag en talle gaan sê hoe belangrik die
jeug is en watter belangrike rol ons jongmense speel in organisasies, ons kerke
en die gemeenskappe. Die woorde sal verskil, maar almal se boodskap sal
dieselfde wees: die jeug van vandag staar talle uitdagings in die gesig.
Dis geen geheim dat ons jeug uitdagings het nie, maar kan ons dit regtig nog
sê? Is ons nie veronderstel om liefs met realistiese voorstelle na vore te kom
nie?
Voorstelle waar ons die uitdagings aanpak, pleks van kyk wie gaan dit
oplos.
Ons jeug is goed in tegnologie. Kan vir ure in ’n laptop, tablet of selfoonskerm vaskyk en nog ander
take verrig aka multi-tasking.
Tog is ons ’n sogenaamde verlore generasie, ’n confused generasie. Ons is onseker omdat sommige sê
daar is nie geleenthede nie, terwyl daar tog baie is, maar ons nie kan besluit
watter een nie.
Baie reken dit is cool om vriende te volg, maar dink nie vir hulself nie.
Ons dink wat ons sien,
hoor en wat ons ouers en grootouers moes deurmaak, ook met ons moet gebeur. Ons
is baie keer te gemaklik in ons gemaksone en bang of onseker om daaruit te styg.
Van ’n vroeë ouderdom af, word ons geleer wat is reg en verkeerd en dit
behoort ons almal snags wakker te hou dat so baie jongmense die verkeerde bo
die regte kies. Daar is geen kitsoplossing vir die uitdagings nie en die
antwoorde lê by ons as individue.
As gemeenskappe verenig ons by groot sportbyeenkomste; kom ons verenig ook vir
ons uitdagings.
Wyle oudpresident Nelson Mandela het eenkeer gesê “jongmense reik uit na
ander om ’n eenvoudige toekoms te bou. Dit verg emosionele volwassenheid en
morele krag”.
Ons verlede is belangrik omdat dit ons leer waarvandaan ons kom. Ons moet
daaruit leer, maar ons moet ook in die hede werk om na die toekoms te beweeg.
Tata Madiba se woorde slaan dus die spyker op sy kop. Jongmense is uniek op
hul eie manier en hulle reik uit. As ’n samelewing neig ons baie keer om dit
nie raak te sien nie, om ons jeug te kritiseer, ons jeug te verwerp, af te
skryf en die ou gunsteling, te veroordeel.
By ’n jeugsaamtrek ’n dekade gelede het Mandela gesê “jongmense moet
baanbrekers van die heropbou en ontwikkeling word.
Deur die jeug se voorbeeld sal daar gehelp word dat Suid-Afrika die land
van ons drome word’.