Op 3 Augustus
sal meer as 26 miljoen van my medelandsburgers die geleentheid kry om hul
kruisie te maak.
Ons sal die geleentheid kry om ’n politieke party en
wykskandidaat te kies om ons te verteenwoordig en hul beloftes na te kom.
Wanneer my
keuse gemaak is, sal ek met die kollektiewe besluit – wie my wyk en munisipale
gebied gaan regeer – moet aanvaar.
Dit is daarom
belangrik dat wanneer ek my kruisie maak, ek dit met trots doen en my stem slim
gebruik.
Net minder as
50 000 van die meer as 3 miljoen kiesers in die Wes-Kaap is tussen 18 en 19 en
sal vir die eerste keer hul kruisie maak. Hulle sal kan kies uit ’n rekord 200
politieke partye en 61 014 kandidate wat in die munisipale verkiesing
meeding. Dit is sowat 65% meer politieke partye en 12% meer kandidate as vyf
jaar gelede in 2011.
Talle kenners
noem dit die belangrikste verkiesing sedert daai allerbelangrike 1994 een. Tog
is alle verkiesings belangrik en wat vanjaar se plaaslike verkiesing
interessant maak is om te sien of kiesers volgens hul behoeftes of volgens
lojaliteit sal stem. Dit natuurlik as jy dink aan wat die afgelope twee tot vyf
jaar gebeur het.
Ons stem is
egter meer as ’n geleentheid, dit is ’n verantwoordelikheid wat ons toegang gee
tot die reg om ons openbare verteenwoordigers verantwoordbaar te hou. Ons stem
is nie net vyf minute werd nie, maar inderdaad vyf jaar. Vyf jaar om diegene
vir wie ons kies verantwoordelik te hou om in die gemeenskap se basiese behoeftes
te voorsien.
Die afgelope
paar maande moes ons talle diensleweringbetogings in die land aanskou. Nes geen
mens perfek is nie, is ook geen party perfek nie en bevat elkeen sy eie struikelblokke.
Rassisme,
kwotas in sport, korrupsie, private stralers, spy tapes en talle
ander sake is belangrik.
Maar wat ons
baie keer vergeet is om realistiese oplossings op die agenda te plaas wat die
daaglikse bestaan van veral die armes raak.
Terwyl ons worry oor ’n nuwe jet vir die
president of ’n rassistiese post op sosiale media, is daar ’n ouma wat omsien
na haar vyf kleinkinders en wonder waar gaan sy môreaand se ete kry. Terwyl ons
kwotas in sport bespreek, het die ouers van ’n talentvolle jong sportspeler nie
die geld om eens oefenklere vir daardie speler te koop nie.
Ja, hierdie
verkiesing is nes die vorige en dié wat sal kom, belangrik.
Hierdie
munisipale verkiesing is ’n geleentheid vir die kieser om vir hul behoeftes te
stem, om te stem vir wie ’n regte verandering in hul lewe sal maak en nie net
een op papier of ’n poster nie.
Wanneer ek in
die stemlokaal gaan en my stembriewe vashou – staan ek alleen. Ek sal my asem
ophou en dink aan ongeag hoe onvolmaak ons demokratiese proses mag wees of nie,
dit bly ’n voorreg vir my om my kruisie te maak. ’n Voorreg wat my grootouers
nooit gehad en kon geniet het nie.
Ja, ek sal
dink aan wat Zuma, Maimane, Malema, Lekota, Buthulezi, Zanele, Godi en die
Mulders gesê het, asook beloftes van plaaslike leiers. Maar ek sal ook dink aan
Madiba, Oliver, Walter, Albertina, Helen, Dullah, Kader, Ashley en die talle
ander wat ’n duur prys betaal het vir my om hierdie verantwoordelikheid te
geniet.
Ek sal ’n
oomblik neem en dink aan die talle uitdagings in my gemeenskap en wie in my
mening die beste dit kan aanspreek.
Ek sal dink
aan menseregte, vryheid van spraak, die media, vryheid om aan ’n organisasie
van my keuse te behoort. Ek sal ook dink aan die regte van minderheidsgroepe, diversiteit
en ’n droom van samehorigheid.
Ek sal met
die stembriewe in my hand ook dink aan armoede, maatskaplike uitdagings soos
dwelmmisbruik, tienerswangerskap, MIV, werkloosheid, bendegeweld en die stigma
teen my LGBTI (gay) vriende.
Ek sal dink
aan vrede en hoop dat jy ook jou stem wys sal gebruik.
Geniet die
verantwoordelikheid om te stem. Stem met trots en loop by die stembus weg met
die wete dat jy die regte ding gedoen het.
- Oorspronklike rubriek het in Paarl Post van Donderdag 28 Julie 2016 verskyn.