Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Wednesday 22 April 2015

Ja, ek is bruin en trots daarop


Binnekort vier ons Vryheidsdag, een van die sleutelgebeure vir ons demokrasie, toe Suid-Afrikaners – ongeag ras – hul kruisie vir ’n demokrasie kon trek in 1994.
Onlangse gesprekke, debatte en opinies oor ras dwing my egter om 21 jaar in ons demokrasie te sê, klassifiseer my asseblief as Suid-Afrikaner.
Sowat ’n jaar gelede het ek via Twitter ’n munisipaliteit gekontak oor ’n diensleweringskwessie. Die verantwoordelike departementshoof het binne sekondes reageer en kort daarna die premier van die Wes-Kaap. Ek is met ’n antwoord op my navraag voorsien en om verskoning gevra vir die ongerief.

Op my dankie reageer iemand: “Earl is wit omdat sy probleem opgelos word. Swart inwoners word uit hul huise gesit en wittes onmiddellik gehelp.” 
Hierop moes ek vra: hoekom is my ras belangrik?  Ek is ’n Suid-Afrikaner en ras moet nie ’n saak wees nie.

’n Vriend van my vertel onlangs hoe hy geoordeel word en die lelike kommentaar wat gemaak word omdat hy en sy meisie nie dieselfde ras is nie. My woorde aan hom was, liefde ken alles en verdra alles. Ongelukkig is hy nie die eerste en enigste van my vriende wat met iemand van ’n ander ras uitgaan en daaroor geoordeel word nie.

Ek verstaan en respekteer ons land se geskiedkundige agtergrond, maar voel ten spite hiervan en ons jong demokrasie, moet ras nie die eerste ding wees wat in ons kop opkom nie. Ek twyfel of in enige ander land jy gevra gaan word wat jou ras is, jy sal liefs jou nasionaliteit gevra word.

Tog is dit bietjie selfsugtig om te argumenteer dat ras nie saak maak en nie belangrik is nie. Ek het al menigmaal gehoor hoe mense sê ek was eers te swart en nou is ek te wit, sommige noem my hotnot en andere ’n confused ras. Ek is bruin en trots daarop.
Het jy al ooit daaroor gewonder, as jy nie jy was nie, wie sou jy wees?
Groot word was dalk nie maklik nie, maar die realiteit is dat die lewe nie maklik is nie.
Dood, ongelukke, uitdagings, siekte, geloof, seksuele oriëntasie en liefde is maar ’n paar dinge wat nie vir ras vra nie, maar gebeur.

So mense kan my boesman en hotnot noem, dit is deel van my erfenis. As dit nie deel van my Skepper se plan was nie, sou hy my sekerlik nie so geskape het nie.
Soms gaan ons deur die lewe soos om deur ’n donkerkamer met onsekerheid te loop, maar sodra die lig aangaan, voel ons selfversekerd.

Hoekom skaam wees oor wie jy is, as jy na Sy ewebeeld geskape is.
Alles in die wêreld het ’n label, moet ek ook een hê?

Nes dood en liefde, sal die rassekaart maar gedurig voorkom, om dit te oorbrug moet ons erken en trots wees op wie ons is – insluitende ons erfenis. Ons moet verby ons verskille kyk en strewe na eenheid deur ons diversiteit.


Ja, ek is ’n bruin en trots daarop, maar klassifiseer my as ’n Suid-Afrikaner, want ek is deel van die One Tribe waarvan Vicky Sampson sing as sy sê “we were meant to be as one, one heart, one soul, one tribe under heaven, we are one

  • Hierdie rubriek het oorspronklik op Donderdag 23 April 2015 in Paarl Post op bl.6 verskyn

No comments:

Post a Comment