Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Wednesday 11 November 2015

Is dit tyd dat #GuyFawkesMustFall?


’n Week gelede is Guy Fawkes weer met talle vuurwerk gevier.
Ek kan egter nie help om te wonder hoekom word die dag in Suid-Afrika gevier nie.
Ek het ’n paar mense probeer vra en die antwoord was by almal maar min of meer dieselfde: “Ons doen dit nog al die jare so.” Maar nou hoekom iets doen waaroor ons kla en ’n klomp geld wegskiet?

My vriend, Google, vertel my dat Guy Fawkes-dag ’n jaarlikse herdenking is wat op 5 November veral in Groot Brittanje gevier word. Die dag dateer terug na 1605 toe dit ’n openbare vakansiedag daardie kant van die water geword het om ’n mislukte moordpoging op Koning James I te vier.
Suid-Afrika is nou wel een van die Statebondslande en daar is talle van ons landsburgers in Brittanje.
Maar is dit dan nou nog ’n rede vir ons om elke jaar “bonfire” te hou?
So bietjie meer as twee dekades gelede was ek ook kind en het ons ook vuurwerk geskiet.

In my kinderjare het ons ook honde gehad en dié was ook bang vir die klappers.
Kyk ons so 20 na 25 jaar in die toekoms, dan moet ons erken in 2015 het die bevolking gegroei.
Waar voorheen dalk ’n oop veld in ons buurt was, is nou huise en anders as toe ek ’n tjokker was, het klappers gevaarliker geraak.
In my dag was ons gelukkig met ’n klapper-stringetjie en dit was vinniger verby as wat jy gesukkel het om dit aan die brand te kry.
Ons het ook sulke klein wit bomme gehad en die goed het net geraas gemaak as dit voor jou voete gegooi word. Dan is daar die sterretjie, maar ek sien dit word deesdae by ’n bekende eetplek gebruik as jy verjaar.
Ons was nie as kinders toegelaat om die groot klappers, soos ons dit geken het, te koop nie. Die man by die winkel het jou baie mooi gesê gaan kry jou ma of pa en dan het Ouma maar saam gegaan.
Ons kon ook nie die groot klappers self skiet nie. ’n Volwasse persoon moes ons daarmee help, want jy gaan seerkry. En dan het ons maar met die wit bomme en klapper-stringetjies gespeel en gewag.
Tye het verander en vandag se kind wil alles self doen en daai kind gaan sukkel tot wat gedoen moet word, reg gedoen is.
Die kind in my is nie gekant teen klappers nie, maar wel die onverantwoordelikheid wat saam met dit gaan.
Dat vuurwerk iets mooi kan wees, is iets waarmee ek gaan saamstem. Maar voorvalle van kinders wat op Guy Fawkes dag brandwonde opgedoen het, was twee dekades aansienlik minder as vandag. Op die vooraand van Guy Fawkes dag vanjaar het ’n seuntjie homself baie lelik beseer.

Talle mense het ook brandwonde op hul hande opgedoen as gevolg van klappers. Ek het ook op Guy Fawkes-dag gehoor van iemand wat buite sy woning vermoor is, die mense binne die huis was onder die indruk dit is net klappers wat geskiet word.
Die prys van die klappers is ook nie meer wat dit was nie. Ek kon destyds van ’n R1 ’n boksie wit bomme koop. Nou gaan ek seker meer as R10 moet uitgee net vir gewone klappers.
Dit laat my wonder, afgesien van die veiligheidsaspek, is dit dan nog bekostigbaar om klappers te skiet. Ironies genoeg val Guy Fawkes in die tydperk van matriekafskeid – en dan praat ek nie eens van “breaking-up” by die werk nie. Dan is daar ook nog die registrasie by skole vir die volgende jaar en sommige begin aankope doen vir Kersfees.

Een van die goeie dinge van Guy Fawkes is dat dit my leer wie is regtig diereliefhebbers. En het nooit geweet so baie van my vriende, wat nie eens ’n hond het nie, gee om vir honde. Talle van my vriende op sosiale media was ook baie uitgesproke oor #GuyFawkesMustFall, maar nou wonder ek hoeveel van ons vertel ons geliefdes van die gevare van die klappers en hoeveel van ons gaan skiet dit by afgebakende gebiede?

Twee dekades gelede was ek gelukkig met R20 se klappers. Ek twyfel sterk of jy nou gaan wegkom met minder as R100 se klappers.

Dit maak dat ek myself dan weer vra, is dit nog bekostigbaar om Guy Fawkes te vier?


  • Hierdie rubriek het oorspronklik in Paarl Post van Donderdag 12 November 2015 verskyn

No comments:

Post a Comment