Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Wednesday 8 November 2017

Spore het hoop, maar bied nie kitsoplossings

Dit is nou al amper 40 minute en daar was nog nie eens ’n aankondiging nie. Die treine is al weer laat. Dit raak nou ’n gewoonte – treine is meer laat as wat dit betyds is. Kommunikasie is ook nie een van Metrorail se sterk punte nie, want glo dit of nie – met al die treinkansellasies is daar nog meer treine as aankondigings.

Op die platform wonder ek wanneer kom die verdomde trein, want ek het klaar ’n kaartjie gekoop. Ja, dit is hoe duisende pendelaars baie keer voel en dit is iets wat duisende daagliks in die gesig staar.
Ek raak nou moeg van die gewag en ek weet nie of daar iets gaan kom of nie. Wag, laat ek iemand bel.

Die daaglikse stryd en frustrasies van pendelaars is weens wanbestuur en korrupsie, maar ook swak of eintlik geen beplanning.
Die huidige diens kan jou nie ’n trein wat betyds is verseker nie. Jy is wel verseker van ’n oorvol trein, en nadat jy gesukkel het om in te klim moet jy oor die uitklim begin worry.
Vir dié wat nie treinry nie – dit is iets soos stoei se royal rumble.

Treine op die Wellingtonlyn is met meer as 60 minute laat. Die probleem is glo ‘low overhead power’ tussen Huguenot en Soetendal. Ek is ook herinner daaraan die die spoorlyn tussen Stikland en Wellington en verder aan Transnet behoort.
Dis die ander probleem. Metrorail huur slegs die gebruik van die lyn, maar enige herstelwerk en onderhoud is die verantwoordelik van Transnet.
Net onlangs was daar ’n passasierverwante voorval by Brackenfell. Wellington treine moes via Stellenbosch ry, en dié tussen Kraaifontein en Stikland is aan hul eie genade oorgelaat. Dit was nou totdat ’n kontrole-operateur van Transnet op die toneel gekom het om enkellynwerk te begin. Dis maar net die operateur wat self elke trein van ’n sekere punt tot by die volgende neem.

Ek dink nou – ironies genoeg het ek vroeër vanjaar aan Metrorail se streekbestuur genoem dat hulle meer aandag aan die “vergete” lyn sal moet gee en selfs voorgestel dat ’n senior bestuurder die verantwoordelikheid vir kliëntediens op die lyn gegee word.
Sien, Metrorail het een areabestuurder wat verantwoordelik is vir die sewe stasies tussen Wellington en Muldersvlei. Die aankondigingstelsel en/of luidsprekers by talle van die stasies werk nie, of dié waar dit nie werk nie het nie draagbare luidsprekers nie of daar is nie ’n personeellid om sy of haar lewe te waag en aankondigings op die platform te doen nie.

Wat my dikwels grensloos irriteer is “make use of bridging transport” – net mooier bewoording vir “kry alternatiewe vervoer”.
Dit het my een oggend só op die spore gedryf dat ek Metrorail se kommunikasiebestuurder moes WhatsApp en vra kan hulle nie eerder sê “regrettably Metrorail has no buses available and commuters are advised to arrange their own transport”.
Hoe ironies dat ek dit nou juis in vervoermaand moet noem, want nie net word baie min tot geen aandag aan veral openbare vervoerdienste in landelike gebiede gegee nie, maar baie van die landelike gebiede het geen openbare vervoerdiens nie behalwe vir taxi’s wat jy dalk net tot 18:00, of as jy gelukkig is 19:00, gaan kry.

Kort voor sy aanstelling het die minister van vervoer, Joe Maswanganyi, in ’n parlementêre portefeuljekomitee sy kommer uitgespreek dat Metrorail so baie huurgeld aan Transnet betaal.
Met sy besoek vroeër die maand aan die Kaapstad-stasie saam met Prasa se groepbestuurshoof, Lindikhaya Zide, moes ek net vra wat gedoen word om beter kliëntediens en kommunikasie aan pendelaars op die Wellingtonlyn te verseker.
Metrorail probeer al geruime tyd spore wat aan Transnet behoort, oor te neem. Sake het al só gevorder dat ’n verslag op die tafels van die twee betrokke ministers lê.
Zide het in reaksie gesê Prasa en Transnet gesels oor die oordrag en ander tegniese aspekte en hoop om binnekort ’n aankondiging hieroor te doen.

’n Dag later kondig die Stad Kaapstad weer sy voorneme aan om die bestuur – eintlik die begroting – van Metrorail oor te neem. Terwyl sommige jubel en juig oor die moontlikheid, is dit belangrik om te weet huidige wetgewing, en die nasionale ontwikkelingsplan, weerspreek dit.
Die Stad Kaapstad het ook geen jurisdiksie oor die ander ses munisipale grense waardeur Metrorail ’n passasierspoorvervoerdiens lewer nie.
Ek kan egter nie help om te wonder watter soort diens my medependelaars van Malmesbury, Klapmuts, Stellenbosch, Paarl, Wellington, Hermon, Saron, Riebeeck, Ceres, Tulbagh en Worcester sal kry nie.
Hoeveel langer gaan hulle moet wag as dit ’n kontrakteur is wat treine in daardie gebiede bestuur of as daar ’n voorval is? Die stad is dalk nie die oplossing nie en hoe langer Transnet daarmee sloer, hoe langer wag ons.

Ek besef nou ek is buite Kaapstadstasie. Die foutiewe punte of seine êrens by Soutrivier of Woodstock of waar ook al is reggemaak en my trein trek amper 30 minute laat op Kaapstad-stasie in.

Hoewel daar hoop is, blyk dit geen kitsoplossings is op ’n Express-trein vir my en my mede-pendelaars op pad nie.
  • Hierdie Post Scriptum opinie het aanvanklik in Paarl Post van 9 November 2017 verskyn.

No comments:

Post a Comment