Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Friday, 25 April 2014

Suid-Afrika bou voort op 20 jaar van demokrasie

As negejarige kon ek in 1994 nie soos die meer as 19 miljoen ander Suid-Afrikaners my kruisie gaan trek nie, maar ek kon die geboorte van ons demokrasie op straat hoor, voel en sien.
Suid-Afrika vier vanjaar 20 jaar van vryheid en demokrasie. Hierdie groot gebeurtenis is ’n geleentheid om te besin oor hoe vryheid en demokrasie bereik is, oor vordering wat gemaak is en hoe die nasionale ontwikkelingsplan vorentoe geïmplementeer sal word.
Drie dienende parlementslede, ’n minister wat al sedert 1994 deel van die uitvoerende gesag is, die jongste parlementslid en een wat in die laaste parlement voor demokrasie, maar ook die eerste demokratiese parlement gedien het, deel hul menings.

Derek Hanekom, minister van wetenskap en tegnologie
“Die eerste dae van demokrasie was daar onsekerheid, maar ook groot opgewondenheid.” Hanekom, een van die lanksdienende lede van die uitvoerende gesag, onthou die dag toe hy ingelig is dat hy in oudpresident Nelson Mandela se eerste kabinet van nasionale eenheid sou dien, asof dit gister was.
“Dit was die dae voor selfone, maar biepers. Ek was by ’n middagete-afspraak toe die boodskap deurkom dat ek as minister in die kabinet gaan dien en asseblief onmiddellik by die Uniegebou in Pretoria moet wees.”
Aangaande die land se suksesse en uitdagings, verduidelik Hanekom dat jy eers die uitdagings van 1994 moet verstaan.
“Ons was ’n baie verdeelde land. Om verskillende administrasies vreedsaam saam te voeg as een, was een van ons suksesse. Om kalmte, stabiliteit en eenheid in die land te  bewerkstellig, sal sekerlik Suid-Afrika se grootste sukses wees, veral politieke stabiliteit.”
Verder lig hy ook ons internasionaal gerespekteerde instellings, hoofstuk nege-instellings en grondwet as suksesse uit.
“Daar is nog ongelykheid in Suid-Afrika, maar jy kan nie alles in 20 jaar verander nie,” reken Hanekom.
Hy erken dat korrupsie en misdaad Suid-Afrika se reputasie van dit wat wel die afgelope twee decades bereik kon word, effens swart smeer. Hoewel niks ’n bedreiging vir ons demokrasie inhou nie, is dwelms beslis ’n kwelpunt en sal hy dus veral meer jeugdeelname en -ontwikkeling wil sien.
Bestendige vordering ná ’n droom van ’n nie-rassige, nie-seksistiese, verenigde en voorspoedige samelewing gegrond op geregtigheid en gelykheid, met stelsels in plek vir daardie droom, is hoe Hanekom twee dekades van demokrasie sal opsom.
Oor sy drome en verwagtinge vir die volgende 20 jaar, sê Hanekom dat “ons verder moet verbeter deur krities te bly en teenstrydige sake ernstiger aan te spreek”.

Dene Smuts, DA-skaduminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling
Dene Smuts, wat in vyf parlemente gedien het – vier daarvan in ’n demokratiese Suid-Afrika – sê die eerste demokraties verkose parlement was, soos oudpresident FW de Klerk gesê het, almal se parlement.
“Dit was ’n uitbundige en kleurryke parlement vergeleke met die vorige, nie alleen wat velkleur betref nie, maar ook kleredrag. Ons was ’n halfdosyn vroue tussen 300 mans in die vorige parlement. Nou was nie alleen die vroue nie, maar ook baie nuwe manlike LP’s kleurvol aangetrek.”
Interessant genoeg het die mans mettertyd maar weer meestal pakke begin dra, voeg sy by.
Dit was Smuts se taak as hoofsweep om vir haar party se sewe LPs kantore te kry en sitplek in die raadsaal te beding.
“Sy het kantore in die solder van die Marks-gebou gekry en sitplek in ’n waaierformasie, met die party se destydse leier, Tony Leon, in ’n voorbank.”
Vir haar is Suid-Afrika se grootste sukses die aanvaarding van ’n liberaal-demokratiese grondwet en ook die aanvaarding daarvan deur alle Suid-Afrikaners.
En hoewel sy nou na 25 jaar nie meer in die nasionale vergadering se voorgestoeltes sal sit nie, verwag sy dat daar voortgebou sal word op die herskepping van ’n nasie.
“Ons sal net die ekonomie aan die gang moet kry om vervreemding te voorkom.”

Mkhuleko Hlengwa, IVP-parlementslid
“Ons demokrasie is ’n werk in wording, wat nog besig is om te groei en wemel van al die moontlikhede,” beskryf Mkhuleko Hlengwa, die jongste parlementslid, Suid-Afrika se demokrasie.
Ook hy voel die grondwet is Suid-Afrika se grootste sukses.
“Dit verseker dat demokrasie floreer volgens ’n gesonde stelsel van wigte en teenwigte in die uitoefening van goeie regering, verantwoordbaarheid, deursigtigheid en ontwikkeling. Korrupsie en werkloosheid is die land se grootste uitdagings,” glo Hlengwa.
Hy voeg by dat demokrasie nog altyd gewerk het, maar dat dit dade wat teenstrydig met demokratiese prosesse en norme is, wat die stelsel ondermyn.
“Ons demokrasie kan slegs verbeter as aktiewe burgers die plig aanvaar om die regering binne die grondwet verantwoordbaar te hou. Daar moet ook ernstig daarop gefokus word om ’n bevorderlike en bevoegdheidsgegewe omgewing te skep vir besigheid om sake te doen en werk te skep.” 
Hlengwa sê niks verhoed Suid-Afrika om ook ’n toonaangewende wêreldnasie te word nie.
“Oor die volgende 20 jaar moet ons nie die droom laat vaar dat alle Suid-Afrikaners in vrede en harmonie kan saamleef en ’n beter, voorspoedige en vooruitstrewende Suid-Afrika kan bou nie.”

Emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu
Vroeër hierdie week het emeritusaartsbiskop dr. Desmond Tutu gesê die feit dat Suid-Afrika 20 jaar van vryheid vier, is ’n reuse-prestasie, een waarop alle Suid-Afrikaners trots moet wees.
“Twintig jaar van vryheid is iets om oor te spog. Die doemprofete het gesê Suid-Afrika sal dit nie maak nie, en ons het. Ons het onsself verras met die aanbied van die Wêreldbeker sokkertoernooi in 2010 en het vir twee maande feitlik geen misdaad ondervind nie. Hoekom kan ons nie daardie tydperk verleng nie?”
Soos 20 jaar gelede met die geboorte van ons demokrasie, sal meer as 25 miljoen Suid-Afrikaners vanjaar op 7 Mei hul kruisie gaan trek.
Tutu sê ons het ’n waardevolle gawe, en dit is om te kan stem. 
“Elke Suid-Afrikaner moet goed nadink oor wat hulle met daardie voorreg wil doen, omdat jou kruisie so belangrik is.”


Hierdie artikel het in Die Burger verskyn op Vrydag 25 April 2014.

No comments:

Post a Comment