Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.

Sunday 24 May 2015

Wees oor niks besorg nie


FILIPPENSE 4:6: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles jul begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Jesus sê aan ons om oor niks bekommerd te wees nie. Hy noem ons moet sien dat God selfs vir die wilde voëls en die veldlelies sorg en dat hy ook vir ons sal sorg.
Maar daar is tog ook tye van droogte en dan vrek baie voëls wat nie genoeg kos het nie en lelies blom nie.
Gee Christus se optrede dan maar nie aanleiding tot roekelose en ondeurdagte optrede deur ons nie?
Sou jy besluit om Jesus se woorde ter harte te neem, beteken dit dan nie dat jy ook nie voorsiening vir jou oudag hoef te maak nie?

Jesus moedig ons egter nie met dié woorde aan om onverskillig en roekeloos op te tree of om lui te wees nie.
Die mense wat na Jesus geluister het, het tog geweet dat voëls nie lui is nie.
’n Voël sit immers nie op ’n tak en wag tot die wurm eendag in sy bek sal val nie.

Jesus gebruik nie die voëls en lelies as simbole vir ons om na te streef nie. Dit is bloot ’n simbool van God se sorg vir ons. Dit is totaal en al irrelevant dat droogtes en gebrek aan water en kos ook voëls en lelies kan tref, maar Jesus wil ons met die simbole net daarop wys dat ons nie aardse dinge moet najaag nie.
Dit is beter om net raak te sien op watter wyse God vir die natuur sorg. Die voëls is tog nie besig om oorboord te gaan met hul arbeid nie.

Ons hoef ons ook nie af te sloof om in ver meer as ons behoeftes te voorsien nie. Die vers sê ook aan ons om ons nie onnodig te bekommer oor môre en oormôre nie.
Ons kan die vers lees as ’n opdrag van Jesus en nie net advies aan ons nie. As ons, ons gaan loop en bekommer, sê ons daardeur indirek ons glo nie God is volkome in beheer van ons omstandighede nie.


Iemand het eenkeer die stelling gemaak: “Wys my jou lys bekommernisse en ek sê jou hoe groot jou God is. Hoe langer jou lys, hoe kleiner jou God.”
Bekommernis demp jou vreugde. Dit gee jou iets om te doen, maar bring jou nêrens. Die beste teenmiddel wat ons teen bekommernisse het, is gebed.
Ons lees tog om oor niks besorg te wees nie, maar dat ons alles in gebed aan God bekend moet maak.

Daar is buitendien niks wat kan gebeur wat God nie tot ons voordeel kan omkeer nie. 

  • Hierdie het oorspronklik in Son op Sondag van 5 Oktober 2014 verskyn

No comments:

Post a Comment