Earl September

My photo
I write what ever comes to mind. Real is me and my views/opinion. Be Yourself, be REAL Open-minded young South African who loves to follow South African politics and social issues. I try not to limit myself as I'm capable of more than where I'm now.
Showing posts with label selfdegesalg-verhoudings. Show all posts
Showing posts with label selfdegesalg-verhoudings. Show all posts

Wednesday, 1 February 2017

Waar sal my hulp vandaan kom…

Vir sommige is dit nogal iets om te sien wie by die kerk inkom, maar toe maak Somizi die ander dag ’n grand exit uit die kerk. Sy uitstappery is toe boonop oor homofobiese aanmerkings wat ’n gasprediker by ’n diens in Soweto gemaak het.

Intussen is ’n groep kerkleiers ongelukkig oor die nuwe voorgestelde #haatspraakwet. Die godsdiensleiers reken hulle sal nie die boodskap wat God hulle gegee het kan uitdra nie en in besonder, dat om gay te wees verkeerd en sonde is.
Die NGK sê op sy beurt: “Sou die wet toegepas word, kan dit selfs vryheid van spraak en vryheid van godsdiens in gedrang bring”.

In November het prof. Wannie Carstens bande met die kerk gebreek oor die kerk se besluit oor gaylidmate. Hy sê die kerk het hom ge
drop. “Wat het geword van die liefdesgebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. En ons mag nie voorskryf wie hierdie ‘naaste’ moet wees nie.”

In Brakpan, van alle plekke, weer is daar ’n eetplek wat ’n gaypaartjie verbied het om deel te wees van hul Date Night. Die eienaar sê die rede vir geen gaypaartjies is nie om teen enige persoon te diskrimineer nie, maar om ‘n paartjiesaand te beheer.

Einde verlede jaar het SuidAfrika vir die Amerikaanse pastoor, Steven Anderson, nee gesê om na ons land te kom om gayhaat te preek. Die pastoor het gesê 49 mense wat in ’n gayklub vermoor is, is goeie nuus omdat “die klomp
perverts en pedofiele is”.
Daar is egter talle ander godsmanneen vroue hier in die land wat soortgelyke uitlatings maak en die preekstoel misbruik om hul menings as Godswoord te deel.

Onlangs het ek in drie afsonderlike voorvalle gesels met individue wat depressief, ontsteld en hartseer is oor hoe kerkleiers hul posisie misbruik.
Pleks van liefde te preek, word uitlatings gemaak wat die waardigheid van individue aantas.
Ek het op Facebook ge
vent “geestelike leiers sal nooit die pyn begryp wat hul veroorsaak met die woorde in hul preke nie”.
’n Dominee stuur toe aan my die volgende boodskap: “Ons spreek net wat God op ons hart plaas”. Ek kon nie help om te reageer met: “ek hoop dit is God en nie Lucifer se stem nie”.

In 2016 het ons begin met rassistiese aanmerkings en ons is skaars deur die eerste maand van 2017 en ek wonder of dit die jaar van homofobiese haat gaan wees? Net einde November was dit 10 jaar sedert SuidAfrika die vyfde land in die wêreld en eerste op die vasteland geword het wat selfdegeslaghuwelike gewettig het.

SuidAfrika se Grondwet is duidelik ons almal “het waardigheid en die reg dat dit gerespekteer word”.
Artikel 9 (3) en (4) noem dat niemand direk of indirek onregverdig teenoor enige persoon mag diskrimineer nie.

Die afgelope week was die spertyd vir belangstellendes om insette en kommentaar te lewer op die haatspraakwet. Met dié wet wil die regering sy plig nakom, om gelyke regte te reguleer en diskriminasie te verbied.

Haatspraak word gesien as enige vorm van kommunikasie waar ’n persoon ’n ander persoon of groep dreig, beledig, bespot of skeltaal gebruik.
Laat ons nie doekies omdraai nie, daar is kerkleiers wat preke gebruik om sekere mense te na te kom – of soos ons in die kerkbanke sal sê, pastoor het vandag weer lekker “skim gegooi”.

Uitlatings oor ras, geslag, kultuur of seksuele oriëntasie tas die waardigheid van daardie persoon aan, iets wat veronderstel is om gerespekteer te word. Die einste plek wat ’n veilige hawe moet wees, blyk al hoe meer die plek van oordeel te word.

Ek is een van daardie mense wat in die kerkbanke grootgeword het. Daar het ek geleer dat God is liefde, ons is almal sy kinders en die liefde van Jesus is wonderbaar.
Ek sukkel egter om nou te verstaan waarom ons so selektief is met ons Bybel en sekere verse aanhaal wanneer dit ons pas. Tog vergeet ons van al die ander verse. En dan praat ek nie eens van diegene wat nie eens al 66 Bybelboeke ken nie.

Het God tog nie maar geweet ons sal ook hierdie kruis moet dra, die dat hy sê “roep my aan in die dag van benoudheid”? Steeds kan ek nie help as om te vra “waar sal my hulp vandaan kom?”.

Troos lê daarin dat kerkleiers ook maar mense is, nes ek en jy, gebore in sonde. En ons almal sal eendag alleen voor die Grootman moet gaan rekenskap gee.

My antwoorde vind ek in my wyle ouma se gunstelinggesang:
“My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Niks sal my ooit van Hom kan skei

– dis my anker, my vaste hoop.”
  • Oorspronklike het as Post Scriptum in Paarl Post van Donderdag 2 Februarie 2017 verskyn.

Friday, 7 October 2016

“Ons voel soos Daniël in die leeukuil”


Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) ontmoet hierdie week in Benoni, vir haar Sinodesitting. Op die tafel is die verslag oor homoseksualiteit.

As lidmate van die VGKSA, is ons bekommerd oor die kerk se profetiese stem aan Lesbiese, Gay, Biseksuele en Trans-gender (LGBT)  gemeentelede en gemeenskap. Die afgelope elf-jaar het die kerk drie Algemene Sinodesittings gehad waartydens dié kwessie bespreek was. Die besluit van 2005 oor homoseksualiteit, was hoofsaaklik aangebring deur Abe Pieterse wie deur die kerk legitimasie geweier is, omdat hy eerlik was oor sy seksuele oriëntasie. 

Die besluite van 2005 het gevra na ‘n teologiese studie oor homoseksualiteit. By die Sinode van 2008 was die verslag terug verwys na gemeentes. Vier jaar later, was daar geen  vordering nie, maar was op ‘n tweede studie besluit. Dit wys daarop, dat daar groot ongelukkigheid is oor die teologiese studie van 2008, wat deur prominente VGKSA teoloë saamgestel was.  Die uitgangspunt van hierdie verslag is dat die seksualiteit van gay persone aanvaar moet word. 


As lidmate van die VGKSA vra ons die kerk in liefde om in die gees van die Belydenis van Belhar LGBT lidmate nie verder te laat ly nie. Ons pleit vir eenheid! Herhaaldelik in debatte van homoseksualiteit word Bybelverse voorgehou om te diskrimineer. Die 2005 besluit, dat gelowiges hieroor in liefde moet praat en verdraagsaamheid aan LGBT moet bewys, is ‘n verfynde  institusionele vorm van diskriminasie. Die kerk se onwilligheid om die saak te bespreek op alle vlakke is gedompel in heteroseksisme gevoed deur homofobie, kultuur en die mite dat homoseksualiteit ‘n Westerse probleem is wat in Afrika posgevat het. 


Die Bybel is teen promiskuïteit en nie teen selfdegeslag-verhoudings nie. Sodom was verwoes, deur seksuele die stadsmanne se misdryf. Gasvryheid as goddelike en antieke deug was nie aan die gaste bewys nie.  Die Israeliete van ouds het hulself nie as heteroseksueel beskou nie.  Die Levitiese wette was ingestel om kultiese reinheid te handhaaf. Penetrasie deur ‘n man in ‘n ander man was gesien as vermenging van geslagsrolle, omdat binne die raamwerk van voortplanting en Adam as hoof van Eva, die mag van die man tot verval sal kom. In die Nuwe Testament is prostitusie en pedofilie onaanvaarbaar netsoos vandag. Ons lidmate van die VGKSA is daarvan oortuig dat die verstaan van die Drie-eenheid die voorbeeld is vir menslike verhoudinge en nie noodwendig die verhoudings van mag en manlikheid soos deur die antieke kulturele waardes vasgevang is in die Bybel nie. Seksualiteit vir ons ‘n gawe van God vir elke mens wie Hy kunstig geskep het.  


As lidmate van die VGKSA vra ons die kerk in liefde om in die gees van die Belydenis van Belhar LGBT lidmate nie verder te laat ly nie. Ons pleit vir versoening! Talle lidmate (en selfs predikante) lewe in vrees omdat die kerk geen duidelikheid het rondom menslike seksualiteit nie. Diegene wie hulself onderdruk, lewe nie net in vrees nie, maar het ‘n verwronge selfbeeld, menswaardigheid van broosheid en ‘n verwarde spiritualiteit wat nie binne die gemeente kan uitgeleef word nie. Die opgestane Here het versoening vir alle mense gebring, insluitend LGBT persone met hul seksualiteit.  Om versoen te wees met jou seksualiteit maak ook versoening met alle ander persone moontlik. Die Franse Filosoof Paul Ricouer in sy boek The Course of Recognition (2005), praat van wedersydse erkenning as geskenk en dankbaarheid. LGBT persone se seksualiteit wat as studie stuk en sonde beskou word kan alleenlik verstaan word as dit erken word en beskou word as gawe. 


Die doop en Nagmaal praktyke is volle bewys van inklusiewe mag van God. Die VGKSA handhaaf ‘n proses van onderskeiding om by studie wat vir teologiese studies aanmeld te hoor of hulle geroep is. Studente word gelegitimeer en ordineer omdat hulle die Kuratorium (kommissie van teologiese opvoeding) oortuig van hul geroepenheid. Dit druis teen die wil van God om nie LGBT persone toegang tot die bediening te gee. Ons glo, dat VGKSA die LGBT persone se verbintenisse as huwelik moet in seën.  Die Belydenis van Belhar leer ons “dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel,  vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie byvoorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.”   


As lidmate van die VGKSA vra ons die kerk in liefde om in die gees van die Belydenis van Belhar LGBT lidmate nie verder te laat ly nie. Ons pleit vir geregtigheid! Die wêreld, kontinent en ons land dink telkens na oor menslike seksualiteit. Ons is die Here dankbaar, vir ons konstitusionele demokrasie en grondwet wat LGBT regte beskerm. Die kontinent van Afrika waar so baie LGBT persone vermoor, verkrag en vermink word daagliks het weereens die profetiese stem van die Kerk van die Here Jesus Christus nodig. Presies dertig jaar gelede, was die Belydenis van Belhar aanvaar op die Sinode van destydse Sendingkerk. Gelowiges het opgestaan teen alle vorme van onreg, omdat hulle die mooiheid van geregtigheid in hulle  oë van geloof gesien het naamlik “dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom;”


Ons bid saam die gebed van dominee Jan Metler, wat hy voor die aanvaarding van Belydenis van Belhar in 1986 gebid het: 


Ons voel soos Daniël in die leeukuil, want eensklaps het die uur vir ons aangebreek. Vir hierdie geloofsdaad van die sendingkerk sal ons volle verantwoordelikheid moet aanvaar. Ons staan hier weerloos  en breekbaar  omdat ons besef dat ons so maklik in die navolging van die man van Nasaret kan seerkry. Ons wil met ons klein geloof op U wag om ons die pad te wys, wat ons moet gaan.” (Uit die Burger: 27 September 1986). 
  
Onderteken deur: 
Abe Pieterse
Hanzline R. Davids 
Earl September
Veonna Goliath